Deon Opperman is op 15 Maart 1962 in Uitenhage gebore. Hy is die middelkind tussen twee susters. Hy word groot in Oos-Londen in ’n tipiese Afrikanerhuis met Pa wat die hoof van die gesin is en Ma wat op haar stil manier sorg, en ’n alomteenwoordige NG geloof. Hy matrikuleer aan Selborne College in Oos-Londen. Deon se jonger suster, Esmé, was in haar matriekjaar in 1985 die Engelse leerder wat die beste gevaar het in die vyfde nasionale Afrikaanse Olimpiade van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. As skoolseun was Deon sag en vredeliewend, iemand wat nooit bereid was om saam te baklei nie, met die gevolg dat hy deur almal geboelie is. Hy word vir die Drakensberg-seunskoor gekies, maar sy ouers het nie gedink dat dit ’n goeie idee was nie. Hy ontvang op skool sertifikate vir sang. Hy begin ook op skool gedigte skryf. Deon word nie in ’n literêre huis groot nie. Sy pa, Pieter, was besturende direkteur van Joko Tee en hoewel Pieter en DJ Opperman neefs was, vertel Deon aan Roline Badenhorst dat as skryfwerk in sy bloed is, dit nie vanuit daardie rigting kom nie, omdat hy ’n aangenome kind is. Deon was sewentien toe sy pa dood is. Toe Deon veertien was, het hy besluit godsdiens is nie vir hom nie. “Ek glo daar’s drie dinge wat ’n mens mens maak. Oorerwing, omgewing, en die unieke iets wat jy saam met jou aarde toe bring. Wat net jy het. Deel van wat my uniek maak, is ’n wantroue van enige rigiede of georganiseerde geloofstruktuur. Ek het as kind al vir my pa gevra hoekom moet ons geld vir die kerk gee, en hoekom gaan hierdie oom kerk toe, maar doen nie wat die Bybel sê nie. Toe al het ek die dubbele standaarde opgelet.” Terug na bo Verdere studie en werk Deon was van plan om ná matriek in die regte te gaan studeer ter herdenking aan sy pa, maar toe onthou hy dat toe hy ongeveer twaalf jaar oud was, sy pa gesê het dat hy altyd ’n argitek wou wees. Gedurende sy verblyf van twee jaar in die weermag het hy een oggend wakker geword en besef het dat hy nie vir sy kinders sou wou sê: “Ek wens ek het ’n akteur geword” nie. Hy het onmiddellik by Rhodes Universiteit ingeskryf vir ’n dramagraad. Die weermag het hom ook geleer om hard te wees. Dis waar hy sy aggressiewe oorlewingstem ontdek het. Hy gaan studeer drama by Rhodes Universiteit en in 1982 word hy aangewys as die mees belowende eerstejaarstudent en ontvang hy die Michael Atkinson-toekenning. In 1983 ontvang hy die Beste Akteur-toekenning vir sy vertolking van Boesman in Athol Fugard se Boesman and Lena. In 1984, onder aanmoediging van prof Francois Swart, begin Deon ernstig skryf. En na twee onsuksesvolle pogings skryf hy Môre is ’n lang dag. Dit is ’n realistiese drama oor die spanning tussen vyf dienspligtiges aan die grens en is in 1984 vir die eerste keer op die ATKV se Kampustoneel opgevoer. Deon vertel self dat hy dit net geskryf het met die gedagte aan geld, want die ATKV het in daardie stadium R1 000 betaal vir kampustoneelstukke en hy het geld nodig gehad vir ’n verloofring. Die pers was gaande daaroor en dit het vir Deon die AA Mutual Vita-prys as dramaturg van die jaar besorg. Môre is ’n lang dag is in 1989 vir televisie verfilm. Deon het self die draaiboek geskryf en PG du Plessis se maatskappy. Sommatel, het dit vervaardig. Deon was hoog in sy skik met die projek. “Dit is vir my lekker, want dis die drama waarmee ek in die teater ingekom het, en dis nou die drama waarmee ek in televisie inkom.” Elmari Rautenbach het hierdie TV-prent as aangrypend beskryf met al die akteurs wat besonderse bydraes gelewer het. En binne ’n jaar nadat Deon Rhodes verlaat het, word nog twee van sy toneelstukke opgevoer: From midnight to morning en Die teken. Eersgenoemde het in aanmerking gekom vir Amstel se Dramaturg van die Jaar-wedstryd. In 1985 trou Deon met Bridgit Fitzhenry, ’n plaasmeisie uit die Karoo naby Jansenville. Haar ma is in Indië gebore en het in Engeland grootgeword en haar Suid-Afrikaanse pa is van Ierse afkoms. Sy vrou is soos ’n kalm poel, vertel Deon vir Roline Badenhorst. “Al wat sy met die teater te doen het, is as toeskouer. Sy is ook geen akademikus nie, maar is baie sportief en bring my terug aarde toe.” Deon ontvang in 1985 tydens die Grahamstadse Nasionale Kunstefees die dramaprys vir From morning to midnight. Hierdie stuk speel af in ’n openbare manstoilet onder straatvlak in ’n dorp of stad. Dan en Verge is twee rowwe mans wat vir hulle leier Chris wag. Nie jou algemene name vir sulke desperate tipes nie, meen Adrienne Sichel. En sy is reg, want Dan is afgelei van Dante en Verge is kort vir Virgil. Deon was besig om Dante se Inferno te lees toe hy ’n swart-en-wit foto sien van twee mans in ’n oop ruimte wat soos ’n toilet lyk. En ’n allegoriese toneelstuk is gebore. Deon vertel dat Dan en Verge wag vir Chris, wat Christus is. Hulle probeer uit die hel wat die toilet is, kom. “Religion creates a hell of guilt which people must kill to escape from. So when Chris does arrive eventually they kill him. I believe it’s in man’s nature to seek a metaphysical compromise, or excuse, to make a sondebok, for his inadequacies. They’ll always find another Christ. That’s why God exists, because people are trying to compromise,” vertel Deon aan Sichel. Nic Roland skryf in Die Transvaler van 18 Julie 1985 dat die Afrikaner-milieu waarbinne Deon grootgeword het, dieselfde agtergrond is waar Deon sy karakters vir sy dramas vind: “Afrikaners wat dogmaties en dominerend is in hul leefwyse en geloof; vroue wat stil en onderdanig is aan hul mans, maar innerlik sluimerende vulkane van opstand is teen die kragte van die Afrikaner-samelewing wat hul omring.” Deon staan met albei voete binne die Engelse en Afrikaner-gemeenskappe. Vir hom is die dogmatiek van die Afrikaner se geloof ’n geloof van skuldgevoel. Sy eie oortuigings is agnosties van aard en hy voel dat geloof ruimte moet laat vir die verstandelike begrip. Hy wil graag die Afrikaner bewus maak van sy identiteit eerder as om ’n identiteit te skep. Hy glo dat die Afrikaner hom reeds (1985) bewys het deur tradisie en kultuur. “Ons het vir ons ’n kultuur geskep, gebonde aan die Engelsman en die Afrikaner en dit het nou tyd geword om dié identiteit te identifiseer en die Afrikaner-Engelsman-stryd ter syde te stel. Ons eie vrae en moontlikhede binne ons eie kultuur is nou van kardinale belang.” Van vroeg af is Deon bang om in ’n groef te beland en dit is een van die redes waarom hy met soveel genres as moontlik eksperimenteer. In 1985 voltooi hy sy eerste klug, Aap in die mou, om weg te beweeg van die ernstige en dramatiese inhoud van sy ander toneelstukke. Hy vertel dat dié klug ál sy vernuf in hierdie rigting beproef het. “Elke karakter, situasie en handeling moet met ’n ompad betrekking hê op mekaar.” Volgens André le Roux en Michael Venables slaag hierdie klug nie heeltemal nie. Le Roux meen dat daar geen sprake van dramatiese ontwikkeling is nie en dat nóg die woordspelings nóg die grappies snaaks is. Venables skryf in The Cape Times dat die basiese aanname van hierdie teks en die produksie is dat enigiets aanvaarbaar is, maar dit is nie, en die gevolg is dat die kwantiteit humor verreweg die kwaliteit oorskry. Deon se vrees om vasgepen te word, is duidelik ongegrond as ’n mens dit waaraan hy op daardie stadium (1985) gewerk het, in ag neem. Sy belangstelling in musiek – hy speel jazz-klavier – en in klopdans word uitgeleef in ’n musiekspel waaraan hy saam met Noel Stockton werk. Hierdie musiekstuk, Day of the dogs, is ’n allegorie waarin al die spelers honde is. Deon skryf die liedjies en die teks en die musiek is ’n gesamentlike poging. In 1985 voltooi hy ook ’n opdragstuk vir SATV, A man possessed. Sy volkome tweetaligheid stel hom by uitnemendheid daartoe in staat om in Afrikaans en Engels te skryf. Die stuk is die eerste wat hy vir televisie geskryf het. Hy verkies om vir die teater te skryf, omdat hy meer beheer daaroor kan hê. “As mens vir rolprente of televisie skryf, kan die regisseur enigiets daarmee aanvang, selfs die kamerman of beligtingsman druk sy eie stempel daarop af, terwyl die regisseur op die verhoog ten volle beheer oor hierdie dinge het.” In 1986 publiseer Tafelberg Uitgewers Môre is ’n lang dag; en, Die teken, en in 1987 word Deon, saam met Joan Hambidge, die ontvanger van die Eugène Marais-prys. Die teken handel oor ’n jong meisie wat in die NG Kerk opstaan en die tweede koms van Jesus profeteer met ’n teken wat almal moet herken. Die teken is dat die meisie swanger is. Sy glo dat sy swanger is met die tweede Christus, haar ma glo dit is die mens se tweede kans en haar pa glo dat sy rondgehoer het. Wanneer die baba gebore word, maak hy die kind dood. Opperman vertel aan Heather Ross dat die punt is dat die meeste Christelike gelowe God in ’n netjies pakkie toemaak. Hoekom moet hy beperk wees tot die buiteblaaie van ’n boek, wil hy weet. “How can his ways be unknown if they are already in the Bible? If you are going to call him almighty, then you must not limit him. To kill someone on the altar of faith is ridiculous. Beliefs are transient. People were killed for things hundreds of years ago that they laugh at today.” Die teken is nie ’n aanval op die NG Kerk of op enigiemand of enigiets anders nie. Deon val nie aan nie, maar bevraagteken. Hy het die tema gekies omdat hy dit ken. Hy kan nie die feit dat hy agtien jaar in die NG Kerk deurgebring het, wegsteek nie, maar hy kan dit gebruik as ’n dekmantel om op die Christendom in al sy vorme te spring. “So in a sense my play says that if Christ came, man would kill him again. It is not religion that demands a life, it is man.” Na die verwerwing van sy graad vertrek Deon na Bloemfontein, waar hy vir twee jaar as permanente akteur by Sukovs gaan werk, en later ook as letterkundige raadgewer. Vir Deon was dié pos destyds presies wat hy in daardie stadium nodig gehad het – dit is klein genoeg om hom genoeg ondervinding op alle gebiede te gee en al is ’n mens onervare, kry jy genoeg geleenthede en oorgenoeg stimulasie. Deon skryf die stuk The perfect vehicle in vir die Grahamstadse Nasionale Kunstefees in 1986, maar Sukovs se keurkomitee keur die aansoek af en Deon bedank. The perfect vehicle was ’n gesamentlike projek met die hoof van Sukovs se drama-afdeling, Pierre van Pletzen. Volgens Deon het Pierre ’n uitsonderlike sin vir struktuur en Deon skryf die dialoog. Gedurende hierdie tyd in Bloemfontein het Deon opgehou om in Afrikaans te skryf. Hy vertel aan Nushin Elahi: “As jy begin vassit met die Afrikaners, begin jy vassit met die taal. Jy sit met alles vas. Jy kom op ’n punt waar jy net nie meer lus is om te probeer om vir die mense te skryf nie, want jy gee nie ’n hel om nie. Hulle wil nie eens die moontlikhede oorweeg nie. Hulle wil nie eers in die teater kom sit en kanse oorweeg dat dinge miskien anders kan wees as wat hulle dit wil hê nie. Dis hoe ek dit destyds ervaar het.” Toe kom Piekniek by Dingaan, wat weer vir Deon ’n deur ontsluit het. “Daar was ’n kliek, taal is gebruik soos ek dit in my kop hoor. Ek kon verder beweeg.” Hy gaan na die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1987 sy BA Honneursgraad behaal, en vir die volgende twee jaar werk hy as vryskutskrywer, -akteur en -regisseur. Die eerste toneelstuk oor Vigs wat in Kaapstad op die planke gebring is, was Deon se The Indian summer. Dit het sy première gehad by die Grahamstadse Kunstefees in 1988 en is daarna in die Arena Teater in Kaapstad opgevoer. Dit handel oor drie persone wat ’n seksuele drama beleef en volgens die resensent toon hierdie stuk dat Deon erns beter hanteer as geestigheid. Deon sê aan The Argus: “While dealing with a potentially tragic theme I have tried throughout the play that even the moments of greatest pathos are not without humour. My task was made easier by the fact that sex is often very funny.” In 1989 het Stille nag sy première by die Grahamstadse Kunstefees. Sudé Walters skryf dat hierdie drama ’n Afrikanergesin onder die soeklig plaas en die politieke prioriteite daarbinne tot die been oopspalk. Die karakters is mense wat aan ons bekend is, mense met wie ons saamleef. Eghard van der Hoven en Wilna Snyman het die rolle van die beproefde ouerpaar vertolk. Die vader het sy eie oortuigings, maar hy moet terugstaan en probeer om tussen sy vyandige seuns te arbitreer en oordeel te vel of nie te vel nie. Die moeder is besorg oor al drie haar kinders en moet hulle uiteenlopende eienskappe probeer aanvaar en verwerk. Adriaan is brutaal en kru, Gerhard is die linkse broer en Daantjie die vertraagde een. “Die gesin is ’n mikrokosmos van ons gemeenskap en dis eietydse teater van hierdie gehalte wat direk tot die gehoor se diepste gevoelens spreek.” Stille nag ontvang in 1990 die Natalse Vita-prys vir die beste drama en Deon die prys vir die beste regisseur. Dit word ook in 1990 bekroon as die beste produksie van ’n Suid-Afrikaanse verhoogstuk in die AA Lewens en M-Net se nasionale Vita-toekennings. In 1991 ontvang dit die Fleur du Cap-prys vir die beste inheemse dramateks. Deon vertel dat Stille nag gespruit het uit honderde idees wat skielik saamgesmelt het. “Ek wou nog altyd iets oor ’n gesplete familie skryf, en oor die AWB. Ek sien al lank ’n vertraagde in ’n drama. Niks is biografies nie. ’n Mens skep karakters, maar nie een is 100% herkenbaar nie. Daar is nie kopiereg op temas nie. Niemand kan sê: Dis my storie, nie. Elke mens sal dit anders vertel. Soos my weermag-drama maar ’n begin was vir ander.” Op daardie stadium het Deon Stille nag beskou as die beste toneelstuk wat hy ooit geskryf het. Dit word in 1990 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Deon vertel aan Nushin Elahi dat hy twee soorte dramas het: “Ek kan vir jou dié wys wat ek geskryf het en dié wat aan my gegee is. Die tweede soort kom maklik, die ander nie. Ek kry die idee, dan droom ek, ek vertel die storie vir baie mense. Elke keer borduur jy voort op die verhaaltjie. As jy begin skryf, het jy miskien genoeg vir ’n bladsy of twee. Ek weet hoegenaamd nie wat die karakters gaan doen nie. Ek het name en ’n titel. Ek begin altyd met ’n titel, dit gee my rigting. Ek weet presies hoe die begin en die einde lyk. Oor die res het ek nie ’n benul nie. Dis vir my van bladsy tot bladsy ’n ontdekking.” Die Fulbright-beurs word in 1989 aan Deon toegeken en hy skryf hom in vir ’n meestersgraad in film en televisie aan Northwestern Universiteit in Chicago. In 1991 ontvang hy die graad met lof en na drie jaar in die buiteland (twee jaar in Amerika en een jaar in Europa) keer hy en Bridgit terug na Suid-Afrika. In 1991 word Playboys, Deon en Garth Holmes se antwoord op Amerika se Chippendales en die latere rolprent The full Monty, op die planke gebring. In hierdie komieklike stuk word ses mans deur ’n nagklubeienaar en twee vroue van hul nougesette uitkyk op die teenoorgestelde geslag en seks bevry. Die baas van die klub besluit om drie kroegvlieë, sy uitsmyter en die kroegman in ’n ontkleedansvertoning te gebruik omdat niemand meer na Natasha, die ontkleedanseres, wil kom kyk nie. Natasha en die kelnerin kry die opdrag om die vyf mans binne twee maande te leer dans, ontklee, hul boude te skeer, en so meer. Emile Joubert skryf dat die stuk snaaks is met dialoog wat snaaks is, plat en eg Suid-Afrikaans. In 1992 word Deon aangewys as Standard Bank se Jong Kunstenaar vir Drama en in dieselfde jaar wen hy en die Johannesburgse komponis Waldo Malan elkeen ’n beurs van R25 000 van die Stigting vir Skeppende Kunste in die internasionale kategorie. By die ontvangs van die Jong Kunstenaar-toekenning sê Deon: “Diegene, swart en wit, wat in die verlede gely het, moet versigtig wees dat hulle in hul verstaanbare woede nie die einste monster word waarteen daar in die verlede geveg is nie. Aan die toekomstige regering, wat sy samestelling en wie sy leiers ook al mag wees, wil ek dit sê: as julle ooit voorregte ten koste van hierdie land se inwoners opeis, as julle ongeregtigheid bo geregtigheid kies, sal dieselfde mense julle weer teenstaan. Daar is gesê dat ’n nasie se ware toets aanbreek wanneer hy die mag bekom het. Die Engelse en die Afrikaners kon oënskynlik nie in hierdie toets slaag nie.” Deon het beslis nie stilgesit terwyl hy in Amerika was nie. Met sy terugkeer in 1994 het hy vier dramas gehad wat so te sê klaar was vir die Grahamstadse Fees, waaronder ’n eenmanstuk, Goya, vir Marius Weyers oor die lewe van die Spaanse skilder Goya, maar omdat Weyers weens ander verpligtinge nie beskikbaar was vir repetisies nie, het Dick Reineke die rol vertolk. Ook in 1994 tree Wilna Snyman op in Deon se eenvroustuk Sweet sorrows, wat hy spesiaal vir Snyman geskryf het. Dit beeld die ervarings van vier uiteenlopende vroue uit en Snyman bestempel die stuk as die hoogtepunt van haar loopbaan. In 1996 word Deon se epiese stuk Donkerland by die KKNK opgevoer. Hieroor vertel Deon aan Hanlie Retief: “Die toneelstuk strek van 1838 tot 1996 en vertel die verhaal van sewe geslagte van een familie op ’n plaas in Natal. Dit eindig in 1996, wanneer hulle hul plaas in opdrag van die Kommissie van Grondbesit moet wegteken. Die stuk is in Chicago nagevors en in Suid-Afrika oor ’n periode van vier maande geskryf. Dit is ’n vyf uur lange drama wat in twee dele opgevoer word.” Deon het tydens hierdie KKNK besluit dat hy nie weer daar gaan optree nie, omdat hy soveel probleme gehad het met die tegniese kant van die produksie. Donkerland word in 1996 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Johann Botha skryf dat hoewel daar mankemente in die drama is, dit tog ’n drama is wat met jou gal werk. Einde 1996 bied Deon in samewerking met die ATKV ’n dramaskryfkursus in Johannesburg aan. Nege aspirant- en ernstige toneelskrywers woon die kursus by. Die projek is daarop gemik om nuwe tekste te genereer wat tydens 1997 se KKNK opgevoer sal word. Tydens die kursus gee Deon die volgende raad: “Onthou, jy is besig net magic. In daardie eerste moment van ’n openingstoneel ontstaan ’n energiebal wat in ’n vloeiende opeenvolging van aksie en reaksie van akteur tot akteur aangegee word. Daardie energiebal mag nóóit laat val word nie – daarvoor moet jy as skrywer sorg.” Die twee dramas wat in 1997 by die KKNK op die planke gebring is, was Sonder vlerke van Morné Malan en Om ’n slang te vang van Cobus Fourie. In 1996, toe Deon en Bridgit op die punt was om na Australië te emigreer, kruis hulle paaie met dié van Garth Holmes, ’n oudonderwyser, en Bata Passcier, ’n onafhanklike rolprentvervaardiger. Hulle het dieselfde drome gekoester en dieselfde aansteeklike passie in hulle rondgedra. En hulle móés net hande vat. So ontstaan die Suid-Afrikaanse Skool vir Film, Televisie en Drama (AFDA). Deon vertel aan Andrea Vinassa dat dit hulle visie was om ’n dramaskool en teater tot stand te bring waar die studente aan verrykende diepte-onderrig blootgestel word. “Die opleiding wat ek aan verskeie Suid-Afrikaanse en Amerikaanse universiteite soos UCLA en Northwestern University in Chicago ontvang het, was maar power. Ek het nou wel ’n meestersgraad in Chicago verwerf, maar glo my: ek sal daardie tesis nooit vir my studente wys nie! Die standaard is eenvoudig te laag!” Hulle het AFDA begin met ses studente, een TV-stel en ’n gehuurde videomasjien. In 2000 het hulle 248 studente gehad en tussen R3 miljoen en R4 miljoen se toerusting. In die dramadepartement van AFDA moet alle teorie in die praktyk toegepas kan word. ’n Toneelstuk se struktuur word ontleed om die tegniek van die stuk te verstaan, en daarna skryf jy ’n toneelstuk, nie ’n opstel soos op universiteit nie. Die studente is tuis op die aandelemark, hulle bemeester die meeste bestuurstegnieke en ken die basiese beginsels van besigheidsadministrasie. ’n Voorvereiste van Deon se dramakursus is dat derdejaars selfonderhoudend moet wees. Die studente bestuur ’n teatergeselskap, The New Wave Theatre Company, en ’n teater wat tydens die Grahamstadfees die skool se werk aanbied. Die skool se prestasies is nie net beperk tot drama nie. Verskeie oudstudente werk reeds as redakteurs en skrywers vir televisiekanale. In 2000 is hulle ook genooi om drie rolprente op die hoog- aangeskrewe Cleremont-Ferrant-Rolprentfees te vertoon. Deon voorsien dat sy span AFDA binne die volgende dekade op dieselfde vlak as die befaamde Royal Academy of Dramatic Art in Londen sal bring. Buitelandse studente van Engeland, Kenia, Zaïre en verskeie Europese lande studeer reeds by dié Johannesburgse skool. Op ’n vraag van Hanlie Retief hoe hy sy toekoms sien, antwoord Deon: “Dramaskryf is nie meer vir my so opwindend nie. Dis wel iets wat ek altyd sal doen omdat dit uit my diepste wese moet uit. Maar dis lank gelede dat ek by ’n teaterdeur gestaan en luister het na ’n produksie van my, na die gehoor se reaksie en dit my laat huil het. Maar ek het verlede jaar op die fees gehuil toe ’n gehoor vir een van my studente se dramas opgestaan het. Dit gee nou vir my die opwinding.” In Mei 1997 stig ’n groep akteurs onder aanvoering van Deon die Independent Performance Trust (IPT). Die ander is Lizz Meiring, Eric Nobbs, Hannes Muller, Susan Danford, Garth Holmes, Stephen Jennings, David Clatworthy, Wilmien Rossouw en André Odendaal. Hulle is ’n korporasie en ’n finansiële organisasie. Almal stort geld in ’n enkele rekening en hulle wil dit vir teater, TV en rolprente gebruik. In 1997 het die IPT sewe produksies na die Grahamstadse Kunstefees geneem. Die hooffees-produksie was Die skandaal, wat deur Deon en Lizz Meiring geskryf is. Randfeesproduksies was Kaptein Popfees and the weekend blues, One man’s life, Balls and brains, Sonder vlerke en Griet skryf ’n sprokie. Tydens die KKNK se Rimpelfees is One man’s life ook op die planke gebring. Dit is ’n eenmanstuk wat Deon spesifiek vir Eric Nobbs geskryf het oor een man se lewe en sy bittersoet, treurig-snaakse pad van kind tot man. In ’n onderhoud met Susan Coetzer in Rooi Rose van 6 Augustus 1997 sê Deon: “As jy jonk is, sien jy als in swart en wit. Soos jy ouer word, word dinge gryser. Grys in die sin dat die keuses tussen goed en kwaad, doen en nie doen nie, al hoe subtieler word. Al hoe gryser. Dinge wat ek gesweer het ek nooit sal doen nie, kom staan voor my deur, asof die heelal na my gesprek luister en sê: Is dit so? En tot my verbasing doen ek daardie spesifieke ding wat ek gesweer het ek nooit sou doen nie. Ja, in daardie opsig het ek verander. Ek is meer vergewensgesind. En ek gebruik nie meer die woord ‘nooit’ nie.” Deon skryf makliker as dit koud is. “Ek is in die herfs gebore. En ek werk die beste in die herfs en die winter. Ek is nie lief vir direkte somerson nie. My produksie is laer in die warm maande,” vertel hy aan Susan Coetzer. “Ek drink tee terwyl ek skryf. Nie koffie nie. En ek luister na musiek. Soms tot driehonderd keer na dieselfde snit. As ek voel die spesifieke musiek vang die atmosfeer van ’n stuk vas, speel ek dit oor en oor.” Vir kos het hy geen hartstog nie. Hy eet om te leef en leef nie om te eet nie. En hy eet nie terwyl hy skryf nie. Kos het geen spesiale fokus in sy lewe nie. Hy werk baie en hard en as hy soms terneergedruk raak, is daar net een oplossing: “As jy bedruk raak, werk jy dit weg.” Deon kan speel ook en hy gee homself toestemming om te ontspan. “Dan drink ek tequila ... Ek gebruik nie verdowingsmiddels nie, het nog nooit nie. En dan hou ons partytjie. Ek en my vrou is baie lief vir dans.” Deon het ’n hartstog vir toorkuns. Hy bestudeer dit al van jongs uit boeke. “En ek is goed daarmee. Ek doen close-up gevorderde toorkuns. Nie met my eie magic-tassie nie, maar met die ander persoon se goed: sleutels, penne, geld, wat ook al. Dis geloofwaardiger.” Deon, ’n openlik niegelowige, weier in 1999 om lidmaatskap van die ATKV aanvaar, omdat aspirantlede ’n verklaring moet onderteken dat hulle ’n Christen is. Deon se 29ste drama, Magspel, word in 1999 by die KKNK se hooffees opgevoer – sy tiende drama wat by die hooffees opgevoer word. Magspel het ontstaan uit sy bepeinsing oor die begrip moraliteit en spesifiek oor die spanning wat tussen idealisme en die pragmatiese bestaan. Daar word geworstel met kwessies soos goed en kwaad, reg en verkeerd. By die KKNK in 2001 word Deon se eerste musiekblyspel, Vere, op die planke gebring. Dit speel af teen die agtergrond van die volstruisveerbedryf in die tyd toe Oudtshoorn nog Velskoendorp was. Dit handel oor liefde oor die kleurgrens heen, die groot rykdomme van die goue volstruisveer-era en die dramatiese insinking in die bedryf toe rykes oornag brandarm geword het. Salomé Combrink was die produksie-ontwikkelaar en medevervaardiger en Janine Neethling moes Deon se woorde met musiek inkleur. Deon wou vroeër nie aan musiekspele raak nie, omdat hy gedink het die dialoog is twak, maar met Vere probeer hy as dramaturg om die krag van ’n drama na die musiekspel te bring. In September 2002 is Deon en Bridgit geskei nadat hulle onder meer langer as ’n jaar nie meer saamgeleef het nie. By die KKNK van 2002 stu Deon weer eens verder vooruit met sy passie en tematiese verweefdheid. Hy skryf die teks vir Elsabé Zietsman se Kaalgestroop en behartig ook die regie. Sy word deur Janine Neethling begelei. In hierdie kabaret offer Zietsman haarself eerlik en onbeskaamd “kaal” aan die gehoor. Deon sê na aanleiding van hierdie stuk: “’n Lewe wat geleef word, word aan homself gemeet.” Die verfilming van AFDA se rolprent Soldiers of the rock is in November 2003 afgehandel na twee jaar se harde werk. Die skool self is die hooffinansierder tesame met M-Net en die Sasane-groep. Die prent sou sy debuut op die volgende Cannes-rolprentfees gemaak het. Deon vertel dat dit ’n Afrika-renaissance-prent is. “Dit handel oor ’n groep mynwerkers wat besef hulle het die vermoë om die myn self te bestuur en natuurlik is daar ’n teenstander wat veranderings nie wil aanvaar nie. Die regisseur en draaiboekskrywer is ’n oud-student James Maake.” In 2003 het Deon en Karen Meiring van die KKNK koppe gestamp toe Deon ’n Profees op George dieselfde tyd as die KKNK wou hou. Profees sou in George se Burgersentrum gehou word met onder andere Eric Nobbs, Elzabé Zietsman en die rocksanger Karen Zoid. Hulle sou produksies van vorige KKNK-feeste daar aanbied. Maar Deon beweer dat Meiring, nadat hy sy planne met haar bespreek het, die Burgersentrum op George vir dieselfde week bespreek het. Deon het besluit om nie weer by die KKNK op te tree nie – ook omdat hy nie gelukkig was met die keuringsproses nie. By 2003 se Aardklop Kunstefees in Potchefstroom debuteer Deon met die stuk Boesman, my seun met Deon wat self daarin speel en Eric Nobbs. Dit is Deon se 40ste verhoogstuk en handel oor ’n man wat na 21 jaar na sy ouerhuis terugkeer op die vooraand van sy ma se begrafnis. Francois Smith skryf dat as voortsetting van die Boetman-debat is Deon se stuk geen baanbrekerswerk nie. “Dit kan ook beskryf word as ‘terapeutiese’ eerder as ‘klassieke’ teater, met die twee argumenterende karakters wat mekaar, en die gehoor by implikasie, genadeloos teister. Maar Opperman se talent en ondervinding as dramaturg maak van die drama een van die heel beste voorbeelde in sy klas. ’n Verdere pluspunt is dat die stuk in wese ’n algemeen geldende stelling maak oor die komplekse ouer-kind-verhouding.” Deon se Nipplecaps en G-strings, met Perlé van Schalkwyk, oftewel Gigi die ontkleedanseres, maak in 2004 opslae by die KKNK. Deon gebruik dit as fondament om te praat oor verhoudings, en, aan die einde van die dag, fantasieë. By Aardklop 2004 word Deon se Droomstoel aangebied, waarin van die gewildste klassieke melodieë waarvoor daar nog nooit woorde geskryf is nie, toe ’n taal kry en dit boonop Afrikaans was. Die woorde is geskryf deur kunstenaars soos Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Karen Zoid, Chris Torr en Deon self. “Elkeen sing in sy eie bekende styl; met respek. Dit is nie hooked on classics, classics met ’n rhythm beat of rock classics nie. Daar is geen ander ritmes nie. Die musiek word uitgevoer soos dit geskryf is.” Dit was ’n eerste en eenmalige produksie. Mariana Malan skryf ná die vertoning dat van die beloftes van ’n produksie wat sou meevoer en die hartsnare sou roer, daar nie veel gekom het nie. Sy meen dat dit jammer is dat een van die oorspronklikste idees in ’n lang tyd nie tot sy reg gekom het nie en dat al die werk en beplanning ook platgeval het. Deon kry in 2005 kans om die sepie Backstage wat op e.tv gebeeldsend word, reg te ruk. Hy word aangestel om dit weer oemf te gee en die kykers terug te lok. Sy uitdaging was om die reeks heeltemal te hernu. Volgens Deon het die sepie fokus verloor wat die basiese set-up betref – studente by ’n entertainment-kollege. "Die eerste doelwit was dus om die plot terug te bring na die klaskamer. Daar is ook baie meer sang en dans om meer vibe te gee,” vertel Deon aan Carin Smith, en hy is ruimte gegee om nuwe karakters bekend te stel. Deon het ook onder die skryfspan ingeklim en veranderinge aangebring. Nadat hy die sepie oorgeneem het, het kykerstalle verdriedubbel. Hy is egter nie van plan om sy ander skryfwerk en regie af te skeep nie. Deon is weer getroud, met die aktrise en regisseur Hanlie Rolfes. Sy word by 2006 se Aardklop aangewys as die beste aktrise vir haar rol in Die twaalfuurwals. En Deon voltooi ook sy MBA aan die Wits Bestuurskool. In 2004 bedank Deon uit sy uitvoerende posisie by AFDA om die Uitvoerende Hoofbeampte van Tanstaafl (There ain’t no such thing as a free lunch) Holdings te word. Hierdie maatskappy bedryf die kunste en kreatiwiteit as ’n lewenskragtige besigheid. Die maatskappy het drie filiale: Packed House Productions; eQ2 Corporate Services (’n korporatiewe konsultantbesigheid); en Bottom Line Entertainment (’n televisie-produksiehuis wat benewens ander projekte, ook die sepie Backstage aanbied). In 2006 word Deon se bundel Vyfmaalpaal met die Hertzogprys vir Drama bekroon. Dit behels sy hele drama-oeuvre, wat Boesman, my seun; Magspel; Donkerland; Stille nag; Môre is ’n lang dag en Die teken insluit. Deon vertel aan Anton Krueger op LitNet dat dit altyd lekker is as jou werk erken word, veral so ’n sterk publieke toekenning soos die Hertzogprys. “Ek dink […] pryse is die manier waarop ’n kultuur of selfs ’n bepaalde industrie ’n gesprek met homself voer, en sê: ‘Wat ons doen, maak saak’.” Na die sukses van die produksie van The sound of music in 2005 wat Deon aangepak het, doen hy ook My Fair Lady in 2006. Musiekblyspele is nie vir Deon ’n nuutjie nie, maar omdat dit so ’n duur produksie is, wou hy as vervaardiger eers sy MBA klaarmaak sodat hy oor die nodige finansiële kennis en risikobestuursvaardighede kon beskik. Deon bly bedrywig en in 2007 is Soweto story by die Johannesburg Stadskouburg aangebied. Dit is ’n soort Romeo en Juliet-verhaal en is ’n omvangryke produksie. In samewerking met ’n span van drie skrywers en twee komponiste (Zwai Bala en Janine Neethling) het Deon die liefdestragedie na ’n plaaslike konteks verplaas. So hoop hy om ’n nuwe tradisie van Afrika-musiekspele te vestig wat by swart en wit gehore sal byval vind. Ander produksies sluit in Fiddler on the roof en A funny thing happened on the way to the forum in Julie. Na The sound of music, waarin Steve Hofmeyr gespeel het, het hulle twee gepraat dat hulle weer ’n musiekspel saam moet doen. En dit tref Deon: Hoekom nie een oor Steve se lewe nie? Steve stem in op voorwaarde dat Deon dit skryf en regisseer. Vir Deon was dit ’n voorreg, want Steve is volgens hom ’n ware legende, en so ontstaan Dis hoe dit was – Die Steve Hofmeyr-storie met Steve self in die hoofrol. Deon raak al hoe meer betrokke by televisie en in 2008 word sy reeks Kruispad op kykNET uitgesaai. Dit handel oor hoe twee blanke Afrikaanssprekende gesinne ná 1994 in die nuwe Suid-Afrika aanpas. Dit gaan oor die gesinne van twee susters – die een gesin aanvanklik welgesteld en een nie so welgesteld nie – wat onderskeidelik slegter en beter doen en mekaar halfpad ontmoet. Cobus Visser, Jacques Gombault, Hanli Rolfes-Opperman en Justin Strydom is van die bekende akteurs in die reeks. Deon se hulpskrywers was Harry Hofmeyr, Harry Kalmer en Hanli, sy vrou. In 2009 word Getroud met rugby ook op kykNET gebeeldsend. Dit is Deon se jongste TV-drama en beeld die liefdesintriges van paartjies in provinsialerugbykringe uit. Van die akteurs is Marlon Roelfze, Corine du Toit, Tamarin du Toit en Anél Alexander. Henré Pretorius speel ook daarin. Daar word nie eintlik rugby gesien nie, maar daar is baie tonele in die aantrekkamer. In 2008 bring Deon die R4 miljoen-musiekspel Ons vir jou op die planke. Dit handel oor die Anglo-Boereoorlog en gee ’n goeie uitbeelding van die mens genl Koos de la Rey. Die medeskeppers was
